Nuwe wynmaker by Landzicht se wortels stewig geplant
“Die presiesheid van wyn, die proe van wyn, die deel met mense… dit alles maak dat dit lekker is om in die wynbedryf te werk.”
Hennie Huskisson, die nuwe wynmaker by GWK se wynkelder, Landzicht, is meer as net ʼn man met ʼn passie vir goeie wyn. Hy is ook ʼn bewaarder van geskiedenis. Hiervan getuig sy spesiale verbintenis tot die oudste wingerdstok in die suidelike halfrond. Dié Old Lady, soos hy haar noem, groei sedert in 1771 in Kaapstad.
Lank voor Hennie se sukses in die wynbedryf en sy betrokkenheid by die versorging van die Old Lady het hy sy passie en aanleg vir die landboukuns as ʼn boerseun van die Paarl ontwikkel. As kind was hy omring deur wingerde, groentebeddings en melkbeeste. Vandag is Hennie ʼn kundige wynmaker – ʼn meester in die skep van uitmuntende wyne wat die vrug van sy passie en toewyding aan die kuns weerspieël. Tans het hy reeds meer as ʼn kwarteeu se ervaring in die bedryf.
Hennie is getroud met Loretta, sy steunpilaar, en hulle het vyf kinders. Hy jag graag (“Ek het eers laat begin jag, maar ek is mos nou in die jag-mekka …”) en hy verwerk sy vleis self – van salami tot kaaswors.
Die interessantste deel van hierdie verhaal is sekerlik die storie van Hennie se verbintenis met die Old Lady. Dié vrugbare wingerdstok, wat meer as 250 jaar oud is, staan in Heritage Square in Breestraat, Kaapstad. Hier bied haar blaredak in die somer skadu in die binnehof. Vir die afgelope klompie jare lê Hennie gereeld daar besoek af om haar te versorg en te snoei.
Deesdae maak Hennie wyn met die vrugte wat dié plant steeds dra. Die wyn, met die etiket “1771”, is slegs op veilings te koop. Daar word gereken dat die wingerdstok ʼn ou Duitse kultivar, Gross Chenin Blanc, is. Hennie maak onder meer Méthode Cap Classique van die druiwe. In 2020 is steggies van die ou wingerdstok in die Kompanjiestuin uitgeplant. Die Old Lady se jong kinders speel dus nou in die oudste tuin in Suid-Afrika.
Sy het ook haar eie Facebook-profiel (Oldest Vine) en het al selfs ʼn brief van die koningin van Engeland ontvang. Hennie vertel: Hy het ʼn paar jaar gelede ʼn brief aan die koningin geskryf om haar van dié, meer plaaslike, Old Lady in te lig. Koningin Elizabeth het toe sowaar teruggeskryf en haar seën oor die wingerdstok uitgespreek.
Seëninge oor die eeue heen was beslis aan dié spesiale wingerdstok se kant. Hennie meen dit is ʼn wonderwerk dat sy so lank oorleef het. Hy vertel byvoorbeeld hoe Heritage Square in die sestigerjare amper gesloop is. En, Hennie self het ook hard gewerk om die Old Lady deur ʼn plantsiekte algemeen bekend as “tandpyn” te help. Dié siekte val die hout van wingerdstokke aan en het die Lady se hoofstam in twee laat kraak.
Sy het bly vasbyt dwarsdeur droë somers en lang tye waarin sy geen sorg ontvang het nie. “Ek reken haar wortelstelsel is diep gevestig,” sê hy.
Hennie self het ook ʼn diep wortelstelsel, want sy geestelike beginsels is vir hom baie belangrik. “Ek dink as dit nie daarvoor was nie, was ek dalk ook nie vandag hier in Douglas nie. Ek moes seker maak dit is waar ek wou wees; dit is waar die Here my op hierdie oomblik wou hê.”
Hoe het sy pad gelyk sedert sy kinderdae op die plaas in die Paarl tot by sy huidige aanstelling by Landzicht?
Hennie het aan die Paarl Gimnasium gematrikuleer. Ná sy weermagdiens het hy aan Elsenburg studeer, waar hy as Dux-student aangewys is. Dit was as student waar hy ʼn passie vir veral wynmaak ontwikkel het. “Die presiesheid van wyn, die proe van wyn, die deel met mense, dit alles maak dat dit lekker is om in die wynbedryf te werk,” sê hy.
Hy het by Fairview in die Paarl sy eerste stap in die bedryf gegee. As jong wynmaker het hy onder meer die titel van Suid-Afrika se Jong Wynmaker van die Jaar verower. Van Fairview af is hy na Nederburg, en daarna het hy op verskeie plekke gewerk voordat hy van Cloof Wines in Darling uiteindelik by Landzicht beland het.
“Ek het so baie geleer by die Fairviews en Nederburgs van ons land. Ek het ook die geleentheid gehad om in Frankryk by Chateau Margaux (seker dié kelder in die wêreld), Bodegas Muga in Spanje en ʼn kurkfabriek in Portugal te werk. So, hier is ek nou met al die inligting wat ek wil deel met ʼn span mense wat gehalte wyn wil maak.”
Hennie verduidelik Landzicht het onder meer ʼn niskelder waar hulle ʼn niswyn wil maak. “Ek is baie opgewonde. Ek het heelwat kennis om op kleinskaal en op gehalte wyne te fokus, en dis waar ek hands on wil wees. Ons kan beslis goeie wyne teen ʼn bekostigbare prys vir die publiek in die bottel sit.”
Hy vertel wat hom nog opgewonde maak oor die streek en Landzicht spesifiek is dit wat die produsente hier hulle bied. “Ek was bevoorreg om onlangs ʼn bietjie in die wingerde te gaan stap en met die boere kennis te maak, en ek is baie opgewonde om die gehalte te sien. Die wingerde is baie gesond.”
Hy meen ook die oes lyk tans baie groter as verlede jaar.
Wat is sy lewensleuse? “Wynmakers word so maklik groter as die bedryf. Jy doen goed, jy word erken deur toekennings, en dan moet ʼn ou versigtig wees dat jy nederig kan bly. Volgende jaar moet jy dit weer doen. Dis waar my leuse inkom: hou jou voete op die grond, fokus op dít wat die natuur jou bied en maak daarmee die beste.”
Hoor, hoor, Hennie. Mag die wyn vloei en die stories vertel word. In die hande van ʼn meester soos Hennie Huskisson is elke glas ʼn viering van voete op die grond en wortels wat stewig geplant is.
5 vrae aan Hennie Huskisson
- Rooiwyn of witwyn? Rooiwyn
- Steak of tjops? Steak
- Rugby of tennis? Rugby
- Weskus of Wildtuin? Wildtuin
- Netflix of lees? Netflix