Die régte fokus op die régte plek
Oor die afgelope paar maande is daar groot vordering gemaak ten opsigte van die samesmelting tussen GWK en VKB, met verskeie mylpale wat volgens die transaksie reeds bereik is. Hierdie mylpale is veral ten opsigte van die ontsluiting van waarde en effektiwiteit tussen besigheidheidseenhede, baie daarvan op ʼn informele basis en ondersteun deur die samewerking van spanne in GWK en VKB.
Een voorbeeld hiervan is van die aanpassings wat gemaak is by GWK Handel aan van die bestuurstrukture om fokus te bring na van die kritiese funksies wat deur die besigheidseenheid verrig word.
Met ʼn hernude fokus op die handelsbedrywighede in GWK, is Christoff Smit in Oktober aangestel as GWK Handel se Operasionele Bestuurder.
Christoff het uitgebreide ervaring in die handelbedryf, waar hy die afgelope tien jaar verskeie posisies in VKB se Landbou-divisie beklee het. Hy het in 2003 aan Hoërskool Reitz gematrikuleer en daarna ʼn besigheidsbestuurkursus aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Hy is in hierdie stadium besig om sy B.Com-graad in dieselfde rigting te voltooi.
Christoff se aanstelling is belangrik vir GWK se verbintenis tot gehalte diens en produkte vir ons kliënte in die landbousektor, sowel as die algemene publiek in die gemeenskappe waar daar handelstakke geleë is. Daarmee saam rapporteer die takbestuurders van die verskillende GWK-handelstakke direk aan hom sedert sy aanstelling.
Hy sê dat daar in dié stadium verskeie prioriteite is, maar een daarvan is om verder te verseker dat die regte personeel op die regte plekke aangewend word juis om seker te maak dat ʼn sterk span gevestig word om die beste diens en oplossings vir GWK se kliënte te bied.
“Dit is vir my belangrik om nou verhoudings met kliënte én personeel te vestig regoor ons bedieningsarea. Daardeur kan ons leer waar ons moet ontwikkel en groei, en om waar ons reeds dinge reg doen, daarop te bou,” sê Smit. “ Om as ʼn span saam te werk om nuwe hoogtes te bereik en die volle potensiaal van ons diens- en produkaanbod te ontgin, is vir my ongelooflik belangrik. My gevoel is dat ons nog lekker saam gaan werk en baie mylpale behaal. Ek sien uit om betrokke te raak by ons produsente se besighede sodat ons die omvang daarvan kan verstaan om dit beter te ondersteun.”
Om die fokus verder te versterk in die kritiese funksies binne GWK Handel, neem Jan Kruger nou leiding van die direkte insette-afdeling. Hierdie afdeling bied belangrike produkte en dienste aan produsente op hul plase en die doelwit is om altyd die beste oplossings te verseker.
Kruger sê dat die handelsomgewing in sy eenvoudigste vorm uit ʼn ruiltransaksie tussen twee persone bestaan – geen besigheid of iemand besit ʼn kliënt nie.
“Dit is waarom dit so belangrik is om seker te maak dat die bemarkingselemente van produk, prys, plek en promosie deur persoonlike kontak, kennis van gewoontes en behoeftes en die bou van verhoudinge so goed as moontlik ingespan en gebruik moet word,” sê Kruger. “Dit is wanneer kliënte sal kies om met ons besigheid te doen. Hierdie verg onverdeelde aandag deur verskillende afdelings en mense wie se aandag gefokus is.”
Samewerking is die rots waarop GWK se handelsomgewing gebou is en die spanne dié besigheidseenheid is toegewyd om ʼn positiewe impak op kliënte en hul gemeenskappe te maak.
“Die beste kunsmis vir ons besigheid en kliënte is die skaduwee van ons personeel op die plase en by hul besighede,” sê Kruger.