Is die gras groener anderkant die draad?
Sonja is lus vir toer. Waarheen nogal? vra ek. Maak nie saak nie. Bly jy, of gaan jy saam? Teenvraag.
Voor ek daaroor kan dink, is my naam is op die toerlys. Gedeelte van die toer is saam met ʼn toerleier. Ek hoop net nie die toerleier het hoofseunmaniere nie, laat ek haar mooi verstaan. Dan het ons twee, antwoord sy. Gaan soek solank jou paspoort, kom die opdrag.
Saterdagmiddag moet ek stilbly toe die weeklikse reisprogram op die radio is. Een van die sprekers is ons toerleier.
Ná vele voorbereidings en reisreëlings breek die reis aan.
ʼn WhatsApp-groepie word gestig en daar word geheen en geweer oor alles. Hoekom vra die mense sulke onnodige twak? wil ek weet. Los die mense, hulle is opgewonde, antwoord Sonja.
Reeds Vrydagmiddag vertrek ons na Kimberley om ʼn vlug te haal na Kaapstad. Op pad raak die groepie erg bedrywig. Die spul is bang hulle tasse raak weg en gekleurde linte word aanbeveel. Iemand het ʼn hele paar meter pers lint beskikbaar. Werk seker by ʼn begrafnisondernemer, dink ek. Lang storie kort, daar kon nie ooreengekom word oor die kleur nie.
Oor boodskappe poog ʼn lang man met ʼn grys kop om ons almal bymekaar te kry voor die tyd. Sy vingers glip verkeerd tussen die tydsyfers 1 en 2 vir die middag. Baie gou word hy reggehelp. Die tweede in bevel tree baie diplomaties toe tot die gesprek en sê dat hý daar is om die toerleier, wat reeds oorsee is, te help om ons op die vliegtuig te kry. Langman laat hom nie afsit nie en sê ons moet uitkyk vir hom by die inweegtoonbank. Hy sal ʼn wit hoed dra. Die hoed waarna almal tevergeefs sou soek. Later sou ons hoor hy het die hoed by die huis vergeet.
Saam stap ons vlieguig toe. Ons is vreemd vir mekaar en die gewone kennismaakvrae word gevra. Soos waar kom jy vandaan? Wat doen jy? Hoeveel kinders het julle? Wat doen hulle? Ensovoorts. Vrae oor kleinkinders is onnodig, want dié is al beantwoord lank voor enige vrae gevra is.
Langman dink omdat ek van Prieska af kom, het ek nog nooit ʼn vliegtuig gesien nie en wil weet of ek opgemerk het die vliegtuig se voorwiel is pap. Gelukkig vlieg hy darem nie met sy wiele nie, antwoord ek.
Ons moes oorklim in Turkye na Italië. Istanbul se lughawe is modern en massief. Dit is ʼn vreemde ervaring vir die meeste en almal help soek na die instaphek vir ons volgende vlug. Gelukkig is daar mos altyd ʼn meneer-alles-weet en ons laat hom voor loop. Hy het toe ook nie alles geweet nie en ons het die lughawegebou ʼn paar keer deurgestap voor ons by die regte hek was.
In Italië wag die toerleier ons in. Sy naambord onmisbaar. Ons vertrek per bus na Genoa. Ry letterlik van oos na wes oor Italië. In Genoa wag ʼn drywende voerkraal. Passasiersboot. Vir die volgende week sou ons 24/7 eet.
Op die boot is ʼn mengelmoes van nasies en tale. Almal wys en beduie tegelyk. Die uitdrukking “Babelse verwarring” ondervind ons eerstehands. Almal storm en stamp. Ongeskik. Elkeen vir homself. In ʼn noodgeval sou hulle mekaar doodtrap voor die eerstes die reddingsbote haal.
By die swembad is alle figure denkbaar. Meeste bekrap met graffiti. Tattoes net waar jy kyk. Almal oorgewig. In boeretaal ʼn ses-gradering (vetlaag 6 mm en dikker). Vet, bietjie maerder, lank, kort, boepense, hangpense, staanpense, en hier en daar ʼn biespens. Biespens is mos die begin van pens kry.
Ons taxi-drywer in Tunisië, Gabriël, vertel hoe swaar hulle gekry het gedurende Covid. Was letterlik vir twee jaar toegesluit. Hulle het oorleef deur na mekaar om te sien. Vriende en familie. Dié wat iets gehad het, het dit met almal gedeel. Melk, suiker of net ʼn stukkie brood. Alles. Hyself het seisoenswerk op plase gedoen. Olywe gepluk of druiwe geoes. Baie swaar gekry, maar het oorleef om die storie te vertel. Landbou het hulle gered.
Hy was getroud met ʼn skatryk vrou van Switserland. Het selfs daar gaan bly. Die huwelik het net twee jaar gehou. Die weelde en geld kon hy nie hanteer nie. Hulle paaie het geskei en hy het teruggekeer na sy eie land waar hy gewoond was aan ʼn eenvoudiger leefstyl. Het nooit skoolgegaan nie en moes van kleins af sy pa help om die gesin te versorg. Hy het homself leer lees en skryf. Hy ag homself as baie intelligent en reken hy kon vandag ʼn dokter of ingenieur gewees het as hy net die geleentheid gehad het. Sy twee kinders het albei grade, maar kry nie werk nie. Hy skud sy kop moedeloos. Werkloosheid is ʼn groot kopseer hier in sy land.
Oral in Europa hoor jy Covid-stories. Niemand is ontsien nie. Mense van oor die hele wêreld het swaargekry. Die arme mense is gretig om goed aan toeriste te verkoop net om weer te kan lewe. Nêrens is iemand tevrede met die politiek van hulle land nie en arm mense is duidelik nie net tot Afrika beperk nie.
Terug in Suid-Afrika wonder jy of die gras werklik groener is anderkant die draad.