Klimaatsverandering: Boere moet aanhou innoveer
Suid-Afrikaanse graanprodusente is innoverend en het sedert 1961 hul produksie met 320% verbeter op 32% minder
landbougrond. Produsente is dit egter eens dat die onvoorspelbaarheid van weerpatrone weens
klimaatsverandering wel ʼn bykomende uitdaging gaan wees, en dat aanpasbaarheid belangrik is vir vooruitgang.
Dit is die mening van dr. Henno Havenga, ʼn senior dosent by die eenheid van omgewingswetenskap en bestuur aan
die Noordwes-Universiteit. Havenga is ook verbonde aan die klimatologie-navorsingsgroep (CRG) en maak gebruik
van navorsing wat geskiedkundige weerpatrone akkuraat voorspel om modelle wat vir toekomsweervoorspellings
gebruik word, te verifieer.
Vir Havenga lê boerdery na aan die hart en hy het gedurende sy grootwordjare buite Rustenburg op sy oupa se plaas
blootstelling aan rissies, katoen en tabak gehad. Hy is meer as net ʼn wetenskaplike en het ʼn ware passie vir die
landbousektor. As hy nie vandag ʼn klimatoloog was nie, sou hy beslis ʼn onderwyser (soos albei sy ouers) wou wees.
Die weerpatrone vir die volgende drie jaar is interessant en die veelbesproke El Niño-stelsel sal steeds oorheers,
meen Havenga. “Ons het gesien dat globale seewater-temperature tydens Mei en Junie 2023 ongekende vlakke
bereik het en dat die noordelike halfrond se lugtemperature rekords gebreek het. Alles dui daarop dat dié El Niño
waarskynlik ongewoon sterk sal wees. Meeste voorspellings dui op droër toestande, maar ek sal boere aanraai om
deurlopend die voorspellings dop te hou. Daar was egter ook al El Niño’s wat gelei het tot besonderse reënval oor
groot gedeeltes van Suid-Afrika – die norm bly egter droër toestande.”
Graanboere se merkwaardige prestasie oor die afgelope 60 jaar kan toegeskryf word aan ʼn aantal faktore, sê
Havenga. “Ek dink doelgerigte besluite met beter inligting en die gebruik van tegnologie het grootliks gelei tot
hierdie groei. Biotegnologie, presisieboerdery, verbeterde water- en kunsmisbestuur, meganisasie, en beter
boerderypraktyke word alles versterk deur ons verbeterde begrip van die omgewing, die belangrikheid van
biodiversiteit, weerpatrone en klimaatsverandering. My advies vir boere is om te probeer objektief wees in jou
besluite, neem die data en wetenskap in ag, en gaan dan verder. ʼn Boer wat tydelik afskaal, kan soms oor die lang
termyn groei wanneer hy die groter prentjie van die omgewing en ekonomie in ag neem.”
Havenga vertel verder dat daar ʼn magdom stelsels en toepassings is wat boere kan gebruik om akkurate
toekomsweervoorspellings te volg. “Ek moet beklemtoon dat meeste van hierdie apps dieselfde onderliggende
model gebruik. Meteoblue.com of windy.com se voorspellings is goed vir so ʼn dag tot drie vooruit. Vir seisoenale
voorspellings kan weathersa.co.za/home/seasonalclimate gebruik word, terwyl daar vir langtermynvoorspellings
weathersa.co.za/home/longrangeforecast gebruik kan word.”
Vir die Noord-Kaap lyk die voorspellings vir die volgende 50 jaar dat dit moontlik droër sal wees, maar dat ekstreme
weer (donderstorms) ook sal toeneem. “As ons kyk na ʼn groep modelle genaamd CMIP6, dan stem dit ooreen met
die IPCC (Intergovernmental Panel on Climate Change) se voorspellings. Dit blyk of die somergebiede droër gaan
word, terwyl ekstreme weer ook terselfdertyd sal toeneem. Dit is belangrik om te onthou dat weer jou gemoed is, en
klimaat is jou persoonlikheid. So, selfs binne hierdie tendens van droogte, gaan ons swaarder en meer verwoestende
storms kry. ʼn Groot deel hiervan kan beskryf word deur die Clapeyron Clausius-vergelyking, wat vir ons wys dat die
atmosfeer meer vog kan hanteer met ʼn warmer temperatuur. Vir die winterreënvalgebiede neig dit ook na ʼn
droogte, maar soos ons die laaste maand gesien het, sal ekstreme weer steeds voorkom.”
Met ʼn oog op die toekoms en volhoubaarheid, het Havenga ʼn paar wenke vir boere. “Eerstens, vertrou
wetenskaplikes – ons kry dit dalk nie altyd reg nie, maar elke stelling word met heelwat data en literatuur gemaak.
Moenie bang wees om konserwatief te boer nie, en wees doelgerig en aanpasbaar in jou besluite. Ekonome voorspel
ongelooflike groei, maar neem elkeen van die voorspellings die huidige klimaatprojeksies in ag.”