Minimumloonverhoging bedreiging vir voedsel- en werksekerheid
By Agri SA
Agri SA is ontsteld oor die aankondiging van ’n 9,6%-verhoging in die nasionale minimumloon. Enige styging in koste sal boere verder onder druk plaas. Terwyl die sektor sukkel om die koste verbonde aan beurtkrag, verkrummelende infrastruktuur en hoë insetkoste in bedwang te bring, sal hierdie verhoging voedselsekerheid verder ondermyn en broodnodige werkgeleenthede op die spel plaas.
Die toename is steeds ’n tendens van bo-inflasieverhogings vir meer as ’n dekade. Terwyl boere voorheen in ’n posisie was om dié verhogings te absorbeer danksy die volgehoue groei in ’n aantal landboubedrywe, is daardie tydperk nou verby. Die sektor staar uiterste teenwinde in die gesig, wat op hul eie voedselsekerheid in die komende jare bedreig.
Nieteenstaande die uitdagings wat die sektor die hoof moet bied, het Agri SA ’n voorlegging gemaak en ’n verbruikersprysindeks (VPI) minus 2%-verhoging in die nasionale minimumloon voorgestel. Hierdie voorstel erken die finansiële druk op werkers in die inflasionêre omgewing, maar het ook aandag gegee aan die realiteit van boere se onvermoë om steeds bo-inflasie-verhogings te absorbeer. Dat die regering hierdie gebalanseerde posisie geïgnoreer het, is ’n verpletterende slag, nie net vir die sektor nie, maar ook vir die verbruikers wat uiteindelik dié toename in hul voedselbesteding sal ervaar.
Agri SA en sy lede is daartoe verbind om die land se voedselsekerheid te verseker. Om hierdie rede sal die organisasie voortgaan om met die regering in gesprek te tree oor die kritieke uitdagings wat die sektor in die gesig staar. Agri SA hoop dat daar in die toekoms op sy waarskuwings ag geslaan sal word, sodat boere, werkers en verbruikers nie die prys betaal vir beleid wat die volhoubaarheid van die sektor en die land se voedselsekerheid ondermyn nie.