Redakteursbrief: Mei 2023
By Leana Bezuidenhout
Terwyl die feestyd aangebreek het en die groter meerderheid van landgenote ʼn blaaskans geneem het, is dit asof die mense in landbou nuwe woema gekry het. Omstandighede het dit dalk van hulle vereis.
By SONA 2023 is daar skerp op die elektrisiteitskrisis in die land gefokus. President Ramaphosa het aangekondig dat lenings en aansporingsbelonings ondersoek word om die oorskakeling na sonkrag te ondersteun, en ook dat ʼn minister van elektrisiteit aangestel sal word. Dit volg op grootskaalse bewusmakingspogings van produsente in veral die Noord-Kaap, wat met bakkies, trokke en trekkers opgetrek het om die boodskap “kos is krag en krag is kos” tuis te bring. In dié besproeiingsgebiede is daar reeds merkbare skade aan gewasse op die land – gewasse wat nie water kry nie omdat beurtkrag besproeiing onmoontlik maak.
ʼn Mens wil graag glo dit is boerestemme wat die wiele aan die rol gesit het – dat die voedselproduseerders van Suid-Afrika se noodkreet nie langer geïgnoreer kon word nie. Want, soos hierdie boere tereg sê, dit gaan nie meer oor geld wat hulle verloor nie, maar oor derduisende mense en gemeenskappe wat gaan ly onder armoede, voedseltekorte en werkloosheid.
Hoewel hierdie stemme uit die landbougemeenskap gehoor word, is dit ʼn boodskap wat deur elke Suid-Afrikaner geëggo behoort te word: help ons om kos te voorsien sodat Suid-Afrika kan eet.